Absolute sekerheid oor jou geloof is belangriker as enige iets anders op aarde. Glo jy in die waarheid of tradisie, lerings of menings van mense? Kom ontdek saam, en leer saam waar ons oor jare heen verkeerd geleer is. 2 Tim 3:16-17 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt D

Kom ons kyk nou na die vierde punt in ons reeks oor die skriftuurlike akkuraatheid van die stellings in die NG Kerk Doopformulier (DF) en dit is: "Die verbondsdoop verbind ons kinders aan Christus wat ons sondes met Sy bloed af gewas het".

Reeds het ons in punt (c) gesien dat slegs deur geloof ons Sy kinders kan word. Geloof verbind ons aan Christus en ook so Sy verlossing aan ons. Dit is geloof wat ons een maak met Christus en daarom is die DF stelling hierbo reeds verkeerd bewys.

Maar kom ons gaan 'n bietjie dieper op die punt in. Is 'n verbondsdoop dan nodig om ons aan Jesus se bloed aan die kruis deel te gee soos die DF dit stel? OF, kan iemand deel kry aan die bloed van Jesus, of kan iemand se sondes deur Sy bloed afgewas word sonder die verbondsdoop?

Tit 2:11 "Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn"

Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn - dit is Jesus Christus - en het dus so verlossing vir almal moontlik gemaak.

Joh 3:16 "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."

God se reddende genade is nie eksklusief soos wat die DF doen deur te sê: dat slegs kinders gedoop met die verbondsdoop, deel het aan Jesus se bloed nie. Christus se dood is genoeg om almal te red, Joh. 1:29, maar Christus se vergifnis is net vir die wie in Hom glo. Christus het slegs vir Sy skape gesterf, Joh. 10:11,15. Christus se "aanbod", Sy uitnodiging tot verlossing is universeel vir almal wat glo.

Rom. 10:11,13 "Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.", "Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word."

Geloof koppel ons aan die reddende bloed van Jesus. Geloof gee dat Jesus ons sondes afwas. Om dit anders te stel, geloof is die skakel tussen Sy bloed en ons, deurdat Hy Sy gemeente deur Sy eie bloed verkry het.

Hand 20:28 "Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het."

Daarom is dit verkeerd van die DF om aan ouers te belowe en te leer dat die verbondsdoop nodig is sodat hul kinders se sondes vergewe kan word. Dit is eenvoudig dwaalleer en gee aan ouers en hul kinders valse hoop dat hulle gered is. Dit kan ook maak dat daardie kinders wanneer hulle ouer word, die ware evangelie verwerp omdat hulle glo dat die verbondsdoop wat aan hulle bedien toe hulle 'n baba was, genoeg is om hulle te red.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 07/06/2018)

Sleutel Boodskappe

Copyright © 2 Tim 3:16 - Wat glo jy? | Powered by Blogger

Design by Anders Noren | Blogger Theme by NewBloggerThemes.com