Absolute sekerheid oor jou geloof is belangriker as enige iets anders op aarde. Glo jy in die waarheid of tradisie, lerings of menings van mense? Kom ontdek saam, en leer saam waar ons oor jare heen verkeerd geleer is. 2 Tim 3:16-17 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt B

Ons gaan voort in die reeks t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF). In hierdie boodskap kyk ons na die volgende stelling in die DF: "Die verbondsdoop maak ons lidmate van Sy gemeente"

Die DF spesifiseer dat deur die verbondsdoop ons, d.w.s. kindertjies en grootmense wat reeds die verbondsdoop ontvang het, lidmate van Christus se gemeente word. Om beter te verstaan wat die stelling beteken is dit eers nodig om 'n paar verwante vrae te beantwoord: Wat is Christus se gemeente? Wie behoort aan hierdie gemeente? En wie is hoof van die gemeente?

Ons moet onthou dat die moderne gebruik van die woord gemeente nie dieselfde is as die wyse waarop die woord gebruik is in die Bybel nie. Ons sal b.v. praat van "na watter gemeente gaan jy", of "by watter gemeente gaan jy kerk", of "aan watter gemeente behoort jy". Ons gebruik van die woord gemeente is tipies beperk tot die konteks van 'n gebou met 'n adres, of 'n naam van die groep gelowiges wie daar aanbid.

Die Bybel gebruik ook die woord gemeente om na 'n groep gelowiges te verwys in 'n spesifieke plek, b.v. gemeente in Jerusalem Hand. 11:22. Maar die Bybelse gebruik van die woord gemeente strek ook baie wyer as dit. Die Bybel gebruik die woord gemeente (Grieks ekklēsia ook vertaal as "kerk") om meer te wys na die universele groep gelowiges, sien Matt. 16:18, Ef. 1:22.

Die manier waarop die DF dus die woord gemeente gebruik is belangrik. Wat is die konteks van die woord in die DF. Toon dit op die plaaslike gemeente of op die universele liggaam van gelowiges?

Ef 1:22-23 "En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul."

Ef 5:23 "Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam."

Kol 1:18 "En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; ..."

Die Bybel verwys na gemeente en liggaam as een en dieselfde in 'n geestelike konteks. Wanneer ons dan verder in hierdie boodskap na of liggaam of gemeente van Christus verwys moet u dit asb. so ook in gedagte hou. Die Woord gebruik ook die woord liggaam om te verwys na ons vervalle, fisiese liggame. Maar, wanneer dit praat van Hom as Hoof van die gemeente, praat dit ook van Hom as hoof en verlosser van die liggaam in geestelike terme.

Omdat die DF leer dat die doop ons lidmate maak van "Sy" gemeente, verwys dit na die liggaam van Christus op aarde van wie Hy die Hoof is en nie na 'n kerk met 'n adres nie.

Nou dat ons verstaan wat die gemeente is waarvan die DF praat, moet ons vra hoe iemand lidmaat daarvan word? Hoe word iemand deel van die gemeente van wie Christus die Hoof is?

Hand 2:46-47 "En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is."

Hand 5:14 "En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,"

Ef 2:12-22 "dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees."

Hierdie teks verwysings sluit mooi aan by die verduideliking reeds gegee in Punt (a) – dat slegs deur geloof in Christus enige iemand aan God kan behoort. Net so wys die bg. teks dat geloof ook die sleutel is tot lidmaatskap aan die liggaam van Christus van wie Hy Hoof is. Dit maak nie saak of jy uit die ou verbond of besnydenis kom, Jood of Griek is nie. Dit wat almal met die liggaam van Christus met God versoen is die geloof.

Dit is eenvoudig nie gesonde eksegese om te leer dat die doop iemand deel maak van die gemeente van wie Jesus die Hoof is nie. Die Woord is duidelik dat geloof hierdie funksie verrig.

Die verbondsdoop kan nie 'n persoon deel gee aan die liggaam van Christus of die gemeente van Christus nie. Die eenvoudige rede is dat die verbondsdoop nie gepaard gaan met geloof in die individu nie. Waar geloof ontbreek kan daar nie versoening met die liggaam van Christus wees nie. Die verbondsdoop kan nie red nie en is net 'n lee teken wat op kindertjies bedien word maar geen vermoeë het om hulle te red nie.

T.o.v. punt (b) meet die DF nie as Skrif getrou nie. Die DF is dus in dwaal op hierdie punt. Dit is jammer dat so baie doopouers juis hierdie leun glo. Dit maak mens ook wonder hoeveel ongelowige mense ons in ons kerke het juis omdat mense nie geëvangeliseer word nie, omdat hulle verkeerd geleer word wat nodig is om gered te word.

(Oorspronklik gepubliseer op 21/12/2010 en hersien op 07/06/2018)

Sleutel Boodskappe

Copyright © 2 Tim 3:16 - Wat glo jy? | Powered by Blogger

Design by Anders Noren | Blogger Theme by NewBloggerThemes.com