Onthou asb. die Bybel gee nie riglyne vir lidmaatskap aan 'n aardse kerk organisasie nie. Al wat die Bybel bied is hoe ons lidmate word van Christus se geestelike gemeente o.t.w. kerk. Die stelling van die DF in terme van ons kinders wat as lewende lidmate moet lewe is nie duidelik nie. Lewende lidmate van wat? In die lig van ander punte beskryf in die DF, moet ons aanneem dat hierdie punt in die DF verwys na die geestelike gemeente, m.a.w. die liggaam van Christus op aarde.
Ek wil begin met 'n vraag: Hoe kan 'n kind lewe as lidmaat van die gemeente van Christus indien die kind nog nie deur geloof deel geword het van daardie gemeente van Christus nie?
Die Woord verduidelik op verskeie plekke hoe gelowiges wat deel is van die liggaam van Christus moet lewe, sien gerus 1 Kor. 12, Ef. 5, Matt. 7:16-23, Luk. 3:8-9, Rom. 12, ens. Maar die DF maak nie onderskeid tussen gelowige en ongelowige kinders nie en daarom moet ons vra of kinders oor die algemeen as lewende lidmate van die liggaam van Christus kan lewe?
Wat sê die Woord oor ongelowige mense se vermoeë om die Woord te verstaan?
1 Ko.r 2:11-16 "Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus."
1 Thess. 2:13 "Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo."
Hoe kan iemand die opdragte van die Woord oor hoe gelowiges moet lewe verstaan as hulle nie die Heilige Gees in hulle het nie? Ons weet dat slegs gelowige mense die Heilige Gees ontvang nadat hulle tot geloof gekom het, sien Ef. 1:13. Hoe kan iemand wat nooit tot geloof gekom het verwag om te lewe soos 'n lidmaat van Christus se gemeente? Hoe kan so 'n persoon Bybel opdragte aan gelowiges gehoorsaam?
Vir iemand wat nie glo nie, soos 'n kindjie wat in die verbondsdoop gedoop is, is dinge van die Gees dwaasheid. Hy/sy verstaan dit eenvoudig nie. Omdat daardie kind ongelowig is, het daardie kind dan nog nie eers die Gees ontvang nie. In my opinie kan die Gees kan hulle ook nie leer van God nie want hulle het nog nie die verstandelike kapasiteit daartoe nie.
Later indien die Gees so 'n persoon tot geloof bring sal daardie persoon deur die Gees gedoop word en sal die persoon dan eers kan voldoen aan die belofte van die DF om as lidmaat in die liggaam van Christus te lewe. Die probleem is dat die DF dit nie uitspel nie, en so dan die gedoopte kinders asook die ouers laat met valse verwagtings. So om te leer dat kinders as lewende lidmate moet lewe as hulle nog nie glo nie is verkeerd en kan nie uit die Bybel geboekstaaf word nie.
(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)