Absolute sekerheid oor jou geloof is belangriker as enige iets anders op aarde. Glo jy in die waarheid of tradisie, lerings of menings van mense? Kom ontdek saam, en leer saam waar ons oor jare heen verkeerd geleer is. 2 Tim 3:16-17 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt C

Hierdie is die derde boodskap in die reeks t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF). In hierdie boodskap kyk ons na die volgende stelling in die DF: "In die verbondsdoop neem die Here ons kinders as Sy kinders aan"

Die DF maak 'n belofte aan die doopouers. Die belofte volgens die DF, is dat deur die verbondsdoop ons en ons kinders deur Christus as Sy kinders aangeneem word. In die lig van die bespreking reeds in punte (a) en (b) gedoen, kan jy seker reeds verwag dat hierdie stelling nie gaan klop met die Woord van God nie.

Die vraag om te antwoord is: Neem God mense aan as Sy kinders deur die verbondsdoop?

John 1:12-13 "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is."

Die twee verse in Johannes is duidelik - dit is nie uit besnydenis (bloed), of letterlike hou van gebooie (wil van die vlees) dat ons kinders van Christus word nie - nee, dit is slegs uit geloof in Sy Naam, d.w.s. waar die persoon uit die genade van God weer gebore, of te wel - tot geloof gebring is.

John12:36 "So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg."

Wie is die lig van wie Jesus in die vers hier bo praat? Dit is van Homself. Geloof in Hom (Christus), maak ons kinders van Hom.

Gal 3:26 "Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;"

Duideliker as dit kan die Woord dit nie stel nie. Geen verbondsdoop kan jou 'n kind van Jesus maak nie. Geen verbond kan jou 'n kind van Jesus maak nie. Slegs geloof. Die Bybel stel slegs een vereiste om 'n kind van God te word, slegs een sleutel gee ons deel aan God en dit is geloof.

Terloops, wat is dan die bedoeling van die verbond wat God met Abraham gesluit het? Vir wie is die verbond belowe? Wie is deel van daardie verbond?

Gal 3:6-9 "Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham."

Sien jy nou hoe die goue draad van die verbond van Abraham al die pad deurloop, sonder onderbreking, tot in die Nuwe Testament. Steeds is dit slegs geloof wat red.

Waar kom die reddende geloof vandaan? Hoe kry ons die geloof wat ons redding gee?

Ef 2:8 "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie."

Ons kan nie anders as om hierdie hele teks te onderstreep nie! Dit is die sentrale punt van ons geloof. Slegs deur geloof, deur God se genade aan ons geskenk, kan ons gered word. Slegs in geloof kan ons deel van Sy kinders genoem word. Geen werke, geen teken, geen doop, geen tradisie kan enige iemand red nie.

T.o.v. punt (c) is die DF nie skriftuurlik nie.

(Oorspronklik gepubliseer op 21/12/2010 en hersien op 07/06/2018)

Sleutel Boodskappe

Copyright © 2 Tim 3:16 - Wat glo jy? | Powered by Blogger

Design by Anders Noren | Blogger Theme by NewBloggerThemes.com