Ten spyte van die punt (soos meer breedvoerig verduidelik hier onder) dat iemand wat God nie ken, en nie in geloof deel is van die liggaam van Christus nie en nie die Gees in hulle het nie, nie die Here kan behaag, liefhê en vertrou nie, moet ons vra: Hoe kan so 'n ongelowige persoon dan al hierdie dinge in dankbaarheid doen?
Waarvoor is die kinders dan dankbaar? Is hulle dankbaar omdat Hy vir hul sondes gesterf het? Kan dit wees as hulle Sy verlossing dan nog nie in geloof aanvaar nie. Is hulle dankbaar dat Hy hulle liefhet? Maar hulle ken Hom dan nog nie eers nie.
Wat is dit waarvoor gelowiges moet dankbaar wees? Wat is dit wat ons dryf tot 'n soeke na Jesus en die genade wat Hy deur die kruis aan ons bied? Wat is dit wat die sondaar noodsaak om sy aangesig na Jesus te draai? Wat bring die sondaar tot die voet van die kruis?
Rom. 8:6-7 "Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie."
Ons sondige natuur maak ons vyande van God. Ons sondige natuur verkry vir ons die dood. As ongelowige sondaars vyande van God is hoe kan hulle Hom liefhê, vertrou en dien soos die DF sê?
Volgens 1 Joh. 3:4 (reeds voorheen genoem), is sonde wetteloosheid.
Rom. 3:9-10,19-20 "Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde."
Sonder Christus se bloed wat ons regverdig stel voor die aanklagte van die wet, is ons verdoem tot die dood. Almal is onder die mag van die sonde sonder Christus. Almal staan sonder Christus reeds met een voet in die graf van geboorte af.
Jak 2:10 "Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword."
En vir die wat deur eie werke die wet probeer onderhou, slegs deur een gedeelte een keer te oortree raak die persoon skuldig aan die hele wet.
Gal 3:23-26 "Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;"
Hierdie is die kruks van die saak om dit so te stel:
Wat maak ons na Jesus draai?
Wat bring ons tot die voet van die kruis?
Hoekom aanvaar jy Sy bloed aan die kruis?
Dit is die besef, dat deur ons sondige natuur ons die hele wet oortree en voor God vuil in ons ongeregtigheid staan. Hierdie besef beteken dat ons verstaan dat met die oordeelsdag ons die ewige dood in die hel verdien omdat uit ons eie werke ons nie geregverdig kan word nie.
Hierdie sonde besef, hierdie besef van hoe verlore en absoluut sondig ons is, is dit wat ons in opregtheid laat soek na Jesus en die verlossing wat Hy is Sy bloed vir ons gekoop het.
Rom 2:14-15 "Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,"
Dit is die kennis en besef van die oortreding van die wet wat in elkeen se hart geskrywe staan, wat die wet toelaat om as tugmeester ons na die kruis toe te draai. Dit is tydens hierdie proses dat God in Sy groot genade vir ons die geloof gee (geloof word deur genade aan ons gegee), om te kan glo in die dood en opstanding van Jesus om so ons sondeskuld te betaal. Jesus staan gereed met Sy hand na ons uitgestrek. Hy forseer ons nie om Sy hand aan te gryp nie. Dit is steeds 'n keuse wat ons moet maak.
Uit dit kom ware geloof, ware redding, ware bekering, ware dankbaarheid, ware liefde, ware diensbaarheid!
Mark 4:16-17 "Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik."
Hoekom is dit so belangrik om die voorbeeld van die Woord te volg om mense na Jesus te bring? Hoekom het Jesus self telkemale die wet gebruik (Matt 5:17-37, Mark 10:17-21, John 8:3-11)? Soos die gelykenis van die saaier ons leer, daar is baie wat die Woord met blydskap gaan aanhoor, maar dit gaan nie wortel skiet nie, hulle bly in Jesus net vir 'n tydjie. Sulke mense het nie werklik tot geloof gekom nie.
As jy deur die wet gedryf word tot die sonde besef en ook die besef dat jy verdoem is, kom jy na Jesus in totale nood. Jy glo in Hom, nie omdat Hy jou lewe gaan beter maak ens. nie, maar omdat Hy die enigste een is wat jou kan red!
Die DF sê dat "As gedooptes moet ons kinders uit dankbaarheid die Here liefhê, vertrou en dien". Daarteen leer die Bybel dat gelowiges kinders van die Here is en Hom in dankbaarheid moet liefhê en dien.
Hoe kan iemand slegs op grond van die doop, sonder die wet, sonder geloof, verwag om God in waarheid, en dankbaarheid met hul lewe te dien soos die DF beloof? Wat die DF leer is nie volgens die Woord nie.
Indien jy as kind in die kerk gedoop is en in die kerk grootgeword het, waar staan jy? Maak vandag seker, jy staan voor die voet van die kruis met die regte oortuiging en vir die regte rede. Wat op die spel is, is jou ewigheid! Maak seker jy glo in Jesus jou Verlosser en dat jy jou bekeer het van jou sondige lewe.
(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)