Sien asb. weer die bespreking van punte (a) en (b). Die woord “kerk” kom nie voor in die 1953 Afrikaanse vertaling nie en die woord "gemeente" word in die vertaling gebruik. Die enigste geestelike entiteit waarvan Jesus Christus hoof is, waaraan ons kan deel kry, is Sy gemeente of Liggaam op aarde. Lidmaatskap daaraan is slegs deur geloof soos reeds bespreek. Daar is geen model in die Woord wat aandui dat enige vorm van die doop ons deel maak van die gemeente van Christus nie. Om dus in die DF te leer dat die doop ons inlyf as lidmate van die kerk van Jesus Christus, is nie reg nie. Slegs deur geloof raak ons deel van die liggaam van Christus, d.w.s. die gemeente van Christus.
Hier onder net 'n paar ander punte t.o.v. die kerk wat ek wil noem.
Die frase "die liggaam van Christus" is 'n algemene Nuwe-Testamentiese metafoor vir die kerk (almal wat werklik gered is). Die kerk word in Rom. 12:5 "een liggaam in Christus" genoem, in 1 Kor. 10:17 "een liggaam" genoem, in 1 Kor. 12:27 en Ef. 4:12 "die liggaam van Christus" genoem en "'n liggaam" in Hebreërs 13:3. Die kerk word duidelik vergelyk met die "liggaam" van Christus in Efesiërs 5:23 en Kolossense 1:24.
1 Kor. 12:12-14 "12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.
13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. 14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie."
Onthou dat die konteks van die DF die verbondsdoop is en dat in die konteks die DF leer dat die verbondsdoop mense inlyf tot die kerk van Jesus Christus. Dit is nie wat 1 Kor. 12 hierbo ons leer nie. Mense wie deur die Heilige Gees gedoop is, is deel van die liggaam van Christus. Hier is geen sprake van water doop nie. Die doop deur die Heilige Gees is iets wat plaasvind nadat iemand tot geloof kom.
Ef. 1:13 "in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte"
Die Bybelse model on lidmaat te word van Jesus se kerk is, geloof, dan doop deur die Heilige Gees tot een liggaam. Die pad wat die DF aan doopouers leer is dus nie korrek nie.
(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)