Absolute sekerheid oor jou geloof is belangriker as enige iets anders op aarde. Glo jy in die waarheid of tradisie, lerings of menings van mense? Kom ontdek saam, en leer saam waar ons oor jare heen verkeerd geleer is. 2 Tim 3:16-17 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt E

In ons vyfde punt uit tien punte t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF) kyk ons na die volgende stelling in die DF dat: "Ons kinders se ou sondige lewe het saam met Hom aan die kruis gesterf"

Die DF spesifiseer dat die kindjie se sondige lewe saam met Christus aan die kruis gesterf het. Al reeds in lig van die bespreking in punt (d) is dit duidelik dat hierdie stelling van die DF nie reg is nie.

Wat is sonde?

1 Joh 3:4 "Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid."

Die Engelse Bybel stel dit beter: Whosoever committeth sin transgresseth also the law: for sin is the transgression of the law.

Sonde is om die wet van God te oortree. Beteken dit dan iemand eers sondig as hulle die wet oortree?

Psalm 14:2-3 "Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie."

Rom 3:12 "Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie."

Rom 3:23 "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,"

Psalms 51:7 "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang."

Ons word gebore in sonde. Dit beteken, al neem ons vir die eerste keer asem in hierdie wêreld, nog voordat ons kan dink of verstaan hoe om die wet van God te oortree, is ons al reeds sondaars - sondig in God se oë.

Selfs van geboorte af is ons in sonde en die straf vir ons sonde is die ewige dood:

Rom 5:12-13 "Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie."

Mark 9:43-44 "En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie."

Hoe maak die stelling van die DF enigsins sin dat 'n baba se ou sondige natuur saam met Christus aan die kruis gesterf het. Dit gebeur slegs die dag wanneer daardie kind as volwassene met begrip en berou hul geloof in Jesus as hul Verlosser plaas.

Kan die verbondsdoop ons saam met Christus aan die kruis laat sterf?

Joh 3:3,5-7 "Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. ... Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie."

Nee - slegs mense wat weer gebore is in die Gees, (soos in punt (a) gesien, d.w.s. mense wat werklik glo), deel in Jesus se kruisdood en sal die ewige lewe sien. Die water wat hier genoem word is nie letterlike water nie, maar die Woord verwys eerder na die geestelike reiniging, die besnydenis van die hart (Rom 2:29) wat nodig is. God vereis 'n nuwe hart, 'n mense wat weer gebore word tot 'n nuwe lewe deur 'n doelbewuste besluit vir Jesus te neem en hy/sy se rug op sonde te draai.

Op 20:11-15 "En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp."

Dit is verskriklik as ons tot die besef kom dat ons 'n regverdige God dien. Ja Hy is 'n God van liefde maar Sy toorn gaan opvlam teen almal wat nie deur die geloof met Jesus se bloed regverdigheid verkry het nie. Wat 'n verskriklike gedagte is dit - dat daar duisende mense mag wees wat lewe onder die wanindruk dat hul verbondsdoop hulle regverdig maak in God se oë! Hoe kan die DF 'n stelling maak soos “dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het”? Die enigste verbintenis is geloof in Christus.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 07/06/2018)

    Sleutel Boodskappe

    Copyright © 2 Tim 3:16 - Wat glo jy? | Powered by Blogger

    Design by Anders Noren | Blogger Theme by NewBloggerThemes.com