Absolute sekerheid oor jou geloof is belangriker as enige iets anders op aarde. Glo jy in die waarheid of tradisie, lerings of menings van mense? Kom ontdek saam, en leer saam waar ons oor jare heen verkeerd geleer is. 2 Tim 3:16-17 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt I

Kan ongelowige gedoopte kinders Jesus liefhê? Dit is een van 'n paar vrae wat ek vandag gaan behandel in my artikel reeks van tien punte t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF). Hierdie is die tweede laaste in die reeks. Die DF leer: "As gedooptes moet ons kinders uit dankbaarheid die Here liefhê, vertrou en dien

Ten spyte van die punt (soos meer breedvoerig verduidelik hier onder) dat iemand wat God nie ken, en nie in geloof deel is van die liggaam van Christus nie en nie die Gees in hulle het nie, nie die Here kan behaag, liefhê en vertrou nie, moet ons vra: Hoe kan so 'n ongelowige persoon dan al hierdie dinge in dankbaarheid doen? 

Waarvoor is die kinders dan dankbaar? Is hulle dankbaar omdat Hy vir hul sondes gesterf het? Kan dit wees as hulle Sy verlossing dan nog nie in geloof aanvaar nie. Is hulle dankbaar dat Hy hulle liefhet? Maar hulle ken Hom dan nog nie eers nie.

Wat is dit waarvoor gelowiges moet dankbaar wees? Wat is dit wat ons dryf tot 'n soeke na Jesus en die genade wat Hy deur die kruis aan ons bied? Wat is dit wat die sondaar noodsaak om sy aangesig na Jesus te draai? Wat bring die sondaar tot die voet van die kruis?

Rom. 8:6-7 "Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie."

Ons sondige natuur maak ons vyande van God. Ons sondige natuur verkry vir ons die dood. As ongelowige sondaars vyande van God is hoe kan hulle Hom liefhê, vertrou en dien soos die DF sê?

Volgens 1 Joh. 3:4 (reeds voorheen genoem), is sonde wetteloosheid.

Rom. 3:9-10,19-20 "Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde."

Sonder Christus se bloed wat ons regverdig stel voor die aanklagte van die wet, is ons verdoem tot die dood. Almal is onder die mag van die sonde sonder Christus. Almal staan sonder Christus reeds met een voet in die graf van geboorte af.

Jak 2:10 "Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword."

En vir die wat deur eie werke die wet probeer onderhou, slegs deur een gedeelte een keer te oortree raak die persoon skuldig aan die hele wet.

Gal 3:23-26 "Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;"

Hierdie is die kruks van die saak om dit so te stel:

Wat maak ons na Jesus draai?  
Wat bring ons tot die voet van die kruis?
Hoekom aanvaar jy Sy bloed aan die kruis?

Dit is die besef, dat deur ons sondige natuur ons die hele wet oortree en voor God vuil in ons ongeregtigheid staan. Hierdie besef beteken dat ons verstaan dat met die oordeelsdag ons die ewige dood in die hel verdien omdat uit ons eie werke ons nie geregverdig kan word nie.

Hierdie sonde besef, hierdie besef van hoe verlore en absoluut sondig ons is, is dit wat ons in opregtheid laat soek na Jesus en die verlossing wat Hy is Sy bloed vir ons gekoop het.

Rom 2:14-15 "Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,"

Dit is die kennis en besef van die oortreding van die wet wat in elkeen se hart geskrywe staan, wat die wet toelaat om as tugmeester ons na die kruis toe te draai. Dit is tydens hierdie proses dat God in Sy groot genade vir ons die geloof gee (geloof word deur genade aan ons gegee), om te kan glo in die dood en opstanding van Jesus om so ons sondeskuld te betaal. Jesus staan gereed met Sy hand na ons uitgestrek. Hy forseer ons nie om Sy hand aan te gryp nie. Dit is steeds 'n keuse wat ons moet maak.

Uit dit kom ware geloof, ware redding, ware bekering, ware dankbaarheid, ware liefde, ware diensbaarheid!

Mark 4:16-17 "Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik."

Hoekom is dit so belangrik om die voorbeeld van die Woord te volg om mense na Jesus te bring? Hoekom het Jesus self telkemale die wet gebruik (Matt 5:17-37, Mark 10:17-21, John 8:3-11)? Soos die gelykenis van die saaier ons leer, daar is baie wat die Woord met blydskap gaan aanhoor, maar dit gaan nie wortel skiet nie, hulle bly in Jesus net vir 'n tydjie. Sulke mense het nie werklik tot geloof gekom nie.

As jy deur die wet gedryf word tot die sonde besef en ook die besef dat jy verdoem is, kom jy na Jesus in totale nood. Jy glo in Hom, nie omdat Hy jou lewe  gaan beter maak ens. nie, maar omdat Hy die enigste een is wat jou kan red!

Die DF sê dat "As gedooptes moet ons kinders uit dankbaarheid die Here liefhê, vertrou en dien". Daarteen leer die Bybel dat gelowiges kinders van die Here is en Hom in dankbaarheid moet liefhê en dien.

Hoe kan iemand slegs op grond van die doop, sonder die wet, sonder geloof, verwag om God in waarheid, en dankbaarheid met hul lewe te dien soos die DF beloof? Wat die DF leer is nie volgens die Woord nie.

Indien jy as kind in die kerk gedoop is en in die kerk grootgeword het, waar staan jy? Maak vandag seker, jy staan voor die voet van die kruis met die regte oortuiging en vir die regte rede. Wat op die spel is, is jou ewigheid! Maak seker jy glo in Jesus jou Verlosser en dat jy jou bekeer het van jou sondige lewe.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt H

Hierdie is my agste kort boodskap in my reeks oor tien punte t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF). Kom ons kyk na die stelling in die DF: "Ons kinders moet as lewende lidmate lewe"

Vergelyk asb. na my besprekings in punte (a) tot (g) waarvan skakels na elke bladsy gevind kan word hier: Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Inleiding. Hierdie sal jou belangrike agtergrond bied en is nodig om my argumente hier onder te verstaan.

Onthou asb. die Bybel gee nie riglyne vir lidmaatskap aan 'n aardse kerk organisasie nie. Al wat die Bybel bied is hoe ons lidmate word van Christus se geestelike gemeente o.t.w. kerk. Die stelling van die DF in terme van ons kinders wat as lewende lidmate moet lewe is nie duidelik nie. Lewende lidmate van wat? In die lig van ander punte beskryf in die DF, moet ons aanneem dat hierdie punt in die DF verwys na die geestelike gemeente, m.a.w. die liggaam van Christus op aarde.

Ek wil begin met 'n vraag: Hoe kan 'n kind lewe as lidmaat van die gemeente van Christus indien die kind nog nie deur geloof deel geword het van daardie gemeente van Christus nie?

Die Woord verduidelik op verskeie plekke hoe gelowiges wat deel is van die liggaam van Christus moet lewe, sien gerus 1 Kor. 12, Ef. 5, Matt. 7:16-23, Luk. 3:8-9, Rom. 12, ens. Maar die DF maak nie onderskeid tussen gelowige en ongelowige kinders nie en daarom moet ons vra of kinders oor die algemeen as lewende lidmate van die liggaam van Christus kan lewe?

Wat sê die Woord oor ongelowige mense se vermoeë om die Woord te verstaan?

1 Ko.r 2:11-16 "Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus."

1 Thess. 2:13 "Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo."

Hoe kan iemand die opdragte van die Woord oor hoe gelowiges moet lewe verstaan as hulle nie die Heilige Gees in hulle het nie? Ons weet dat slegs gelowige mense die Heilige Gees ontvang nadat hulle tot geloof gekom het, sien Ef. 1:13. Hoe kan iemand wat nooit tot geloof gekom het verwag om te lewe soos 'n lidmaat van Christus se gemeente? Hoe kan so 'n persoon Bybel opdragte aan gelowiges gehoorsaam?

Vir iemand wat nie glo nie, soos 'n kindjie wat in die verbondsdoop gedoop is, is dinge van die Gees dwaasheid. Hy/sy verstaan dit eenvoudig nie. Omdat daardie kind ongelowig is, het daardie kind dan nog nie eers die Gees ontvang nie. In my opinie kan die Gees kan hulle ook nie leer van God nie want hulle het nog nie die verstandelike kapasiteit daartoe nie.

Later indien die Gees so 'n persoon tot geloof bring sal daardie persoon deur die Gees gedoop word en sal die persoon dan eers kan voldoen aan die belofte van die DF om as lidmaat in die liggaam van Christus te lewe. Die probleem is dat die DF dit nie uitspel nie, en so dan die gedoopte kinders asook die ouers laat met valse verwagtings. So om te leer dat kinders as lewende lidmate moet lewe as hulle nog nie glo nie is verkeerd en kan nie uit die Bybel geboekstaaf word nie.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt G

Die NG Kerk Doopformulier (DF) leer dat: "Die doop lyf ons kinders in as lidmate in die kerk van Jesus Christus". Die sewende punt is ook 'n vinnige een.

Sien asb. weer die bespreking van punte (a) en (b). Die woord “kerk” kom nie voor in die 1953 Afrikaanse vertaling nie en die woord "gemeente" word in die vertaling gebruik. Die enigste geestelike entiteit waarvan Jesus Christus hoof is, waaraan ons kan deel kry, is Sy gemeente of Liggaam op aarde. Lidmaatskap daaraan is slegs deur geloof soos reeds bespreek. Daar is geen model in die Woord wat aandui dat enige vorm van die doop ons deel maak van die gemeente van Christus nie. Om dus in die DF te leer dat die doop ons inlyf as lidmate van die kerk van Jesus Christus, is nie reg nie. Slegs deur geloof raak ons deel van die liggaam van Christus, d.w.s. die gemeente van Christus.

Hier onder net 'n paar ander punte t.o.v. die kerk wat ek wil noem.

Die frase "die liggaam van Christus" is 'n algemene Nuwe-Testamentiese metafoor vir die kerk (almal wat werklik gered is). Die kerk word in Rom. 12:5 "een liggaam in Christus" genoem, in 1 Kor. 10:17 "een liggaam" genoem, in 1 Kor. 12:27 en Ef. 4:12 "die liggaam van Christus" genoem en "'n liggaam" in Hebreërs 13:3. Die kerk word duidelik vergelyk met die "liggaam" van Christus in Efesiërs 5:23 en Kolossense 1:24.

1 Kor. 12:12-14 "12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 
13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. 14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie."

Onthou dat die konteks van die DF die verbondsdoop is en dat in die konteks die DF leer dat die verbondsdoop mense inlyf tot die kerk van Jesus Christus. Dit is nie wat 1 Kor. 12 hierbo ons leer nie. Mense wie deur die Heilige Gees gedoop is, is deel van die liggaam van Christus. Hier is geen sprake van water doop nie. Die doop deur die Heilige Gees is iets wat plaasvind nadat iemand tot geloof kom.

Ef. 1:13 "in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte"

Die Bybelse model on lidmaat te word van Jesus se kerk is, geloof, dan doop deur die Heilige Gees tot een liggaam. Die pad wat die DF aan doopouers leer is dus nie korrek nie.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt F

Hierdie is ons sesde boodskap in die artikel reeks van tien punte t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF) waarin ons gaan kyk na die DF stelling dat: "Ons kinders word ook deur Sy opstanding lewend gemaak sodat hulle dan vir hul sonde dood is"

Hierdie stelling soos die Woord dit toepas op mense wie gelowig is, is waar in daardie konteks. Die probleem is dat die DF hierdie stelling maak binne die konteks van die verbondsdoop en pas dit dus toe op iemand wie nie gelowig is nie.

Verwys asb. na die besprekings in punte (a) tot (e) van hierdie artikel reeks waar ek glo dat ek reeks duidelik genoeg gewys het dat die verbondsdoop minus geloof nie ons koppel aan die beloftes aan gelowiges in die Woord nie. In kort, Christus het vir almal se sondes aan die kruis gesterf maar verlossing van elke individu se sondes kan slegs verkry word deur geloof in Christus geskenk deur God in Sy genade. Die verbondsdoop kan geensins 'n belofte maak dat kinders op enige ander manier die ewige lewe kan kry nie.

Hoekom kan die verbondsdoop iemand nie lewend maak nie? Want met 'n water doop van 'n baba wat geensins die verstandelike vermoeë het om in geloof Jesus te kan kies as hul Verlosser nie, kan daar nie verlossing wees nie. Die doop bring nie verlossing nie. Slegs geloof doen.

'n Vraag wat ek hier wil vra is hoeveel van die Apostels is gedoop? Nêrens in die Woord is daar spesifieke verwysing gemaak na die doop van die Apostels nie. Indien die doop so belangrik was vir ons redding soos die DF leer, sou die NT skrywers dit nie belangrik genoeg geag het om die Apostels se doop in die Woord te dokumenteer nie?

Die antwoord vir my vraag is dat die Apostels in alle waarskynlikheid deur Jesus gedoop was, maar veel belangriker as hul water doop, was die doop met die Heilige Gees wat in Hand. 2 plaasgevind het. Dit is hoekom die Bybel juis die gedeelte uitlig. Dit is die doop wat ons moet uitlig en nie die water doop nie. Die water doop is net 'n teken van iets wat reeds in iemand plaasgevind het - dat hulle gelowig geword het.

Beide die dief aan die kruis (Luk. 23:42) en Saulus (Hand. 9: 17-18) is gered voordat hulle gedoop was. 1 Joh. 1:9 sê die enigste voorwaarde om gered te word (reining van alle ongeregtigheid) is om ons sondes te bely, en Romeine 10:9 sê dat "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word".

Ons kinders word ook deur Jesus se opstanding lewend gemaak slegs wanneer hulle tot geloof in Jesus as hul Verlosser kom - iets wat 'n klein babatjie nog nie kan doen nie. Klein babatjies kan nie bely dat hulle in Jesus glo nie en ongelukkig kan hul ouers dit ook nie namers hulle doen nie.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 08/06/2018)

Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt E

In ons vyfde punt uit tien punte t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF) kyk ons na die volgende stelling in die DF dat: "Ons kinders se ou sondige lewe het saam met Hom aan die kruis gesterf"

Die DF spesifiseer dat die kindjie se sondige lewe saam met Christus aan die kruis gesterf het. Al reeds in lig van die bespreking in punt (d) is dit duidelik dat hierdie stelling van die DF nie reg is nie.

Wat is sonde?

1 Joh 3:4 "Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid."

Die Engelse Bybel stel dit beter: Whosoever committeth sin transgresseth also the law: for sin is the transgression of the law.

Sonde is om die wet van God te oortree. Beteken dit dan iemand eers sondig as hulle die wet oortree?

Psalm 14:2-3 "Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie."

Rom 3:12 "Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie."

Rom 3:23 "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,"

Psalms 51:7 "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang."

Ons word gebore in sonde. Dit beteken, al neem ons vir die eerste keer asem in hierdie wêreld, nog voordat ons kan dink of verstaan hoe om die wet van God te oortree, is ons al reeds sondaars - sondig in God se oë.

Selfs van geboorte af is ons in sonde en die straf vir ons sonde is die ewige dood:

Rom 5:12-13 "Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie."

Mark 9:43-44 "En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie."

Hoe maak die stelling van die DF enigsins sin dat 'n baba se ou sondige natuur saam met Christus aan die kruis gesterf het. Dit gebeur slegs die dag wanneer daardie kind as volwassene met begrip en berou hul geloof in Jesus as hul Verlosser plaas.

Kan die verbondsdoop ons saam met Christus aan die kruis laat sterf?

Joh 3:3,5-7 "Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. ... Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie."

Nee - slegs mense wat weer gebore is in die Gees, (soos in punt (a) gesien, d.w.s. mense wat werklik glo), deel in Jesus se kruisdood en sal die ewige lewe sien. Die water wat hier genoem word is nie letterlike water nie, maar die Woord verwys eerder na die geestelike reiniging, die besnydenis van die hart (Rom 2:29) wat nodig is. God vereis 'n nuwe hart, 'n mense wat weer gebore word tot 'n nuwe lewe deur 'n doelbewuste besluit vir Jesus te neem en hy/sy se rug op sonde te draai.

Op 20:11-15 "En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp."

Dit is verskriklik as ons tot die besef kom dat ons 'n regverdige God dien. Ja Hy is 'n God van liefde maar Sy toorn gaan opvlam teen almal wat nie deur die geloof met Jesus se bloed regverdigheid verkry het nie. Wat 'n verskriklike gedagte is dit - dat daar duisende mense mag wees wat lewe onder die wanindruk dat hul verbondsdoop hulle regverdig maak in God se oë! Hoe kan die DF 'n stelling maak soos “dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het”? Die enigste verbintenis is geloof in Christus.

(Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 07/06/2018)

    Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt D

    Kom ons kyk nou na die vierde punt in ons reeks oor die skriftuurlike akkuraatheid van die stellings in die NG Kerk Doopformulier (DF) en dit is: "Die verbondsdoop verbind ons kinders aan Christus wat ons sondes met Sy bloed af gewas het".

    Reeds het ons in punt (c) gesien dat slegs deur geloof ons Sy kinders kan word. Geloof verbind ons aan Christus en ook so Sy verlossing aan ons. Dit is geloof wat ons een maak met Christus en daarom is die DF stelling hierbo reeds verkeerd bewys.

    Maar kom ons gaan 'n bietjie dieper op die punt in. Is 'n verbondsdoop dan nodig om ons aan Jesus se bloed aan die kruis deel te gee soos die DF dit stel? OF, kan iemand deel kry aan die bloed van Jesus, of kan iemand se sondes deur Sy bloed afgewas word sonder die verbondsdoop?

    Tit 2:11 "Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn"

    Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn - dit is Jesus Christus - en het dus so verlossing vir almal moontlik gemaak.

    Joh 3:16 "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."

    God se reddende genade is nie eksklusief soos wat die DF doen deur te sê: dat slegs kinders gedoop met die verbondsdoop, deel het aan Jesus se bloed nie. Christus se dood is genoeg om almal te red, Joh. 1:29, maar Christus se vergifnis is net vir die wie in Hom glo. Christus het slegs vir Sy skape gesterf, Joh. 10:11,15. Christus se "aanbod", Sy uitnodiging tot verlossing is universeel vir almal wat glo.

    Rom. 10:11,13 "Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.", "Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word."

    Geloof koppel ons aan die reddende bloed van Jesus. Geloof gee dat Jesus ons sondes afwas. Om dit anders te stel, geloof is die skakel tussen Sy bloed en ons, deurdat Hy Sy gemeente deur Sy eie bloed verkry het.

    Hand 20:28 "Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het."

    Daarom is dit verkeerd van die DF om aan ouers te belowe en te leer dat die verbondsdoop nodig is sodat hul kinders se sondes vergewe kan word. Dit is eenvoudig dwaalleer en gee aan ouers en hul kinders valse hoop dat hulle gered is. Dit kan ook maak dat daardie kinders wanneer hulle ouer word, die ware evangelie verwerp omdat hulle glo dat die verbondsdoop wat aan hulle bedien toe hulle 'n baba was, genoeg is om hulle te red.

    (Oorspronklik gepubliseer in Januarie 2011 en hersien op 07/06/2018)

    Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt C

    Hierdie is die derde boodskap in die reeks t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF). In hierdie boodskap kyk ons na die volgende stelling in die DF: "In die verbondsdoop neem die Here ons kinders as Sy kinders aan"

    Die DF maak 'n belofte aan die doopouers. Die belofte volgens die DF, is dat deur die verbondsdoop ons en ons kinders deur Christus as Sy kinders aangeneem word. In die lig van die bespreking reeds in punte (a) en (b) gedoen, kan jy seker reeds verwag dat hierdie stelling nie gaan klop met die Woord van God nie.

    Die vraag om te antwoord is: Neem God mense aan as Sy kinders deur die verbondsdoop?

    John 1:12-13 "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is."

    Die twee verse in Johannes is duidelik - dit is nie uit besnydenis (bloed), of letterlike hou van gebooie (wil van die vlees) dat ons kinders van Christus word nie - nee, dit is slegs uit geloof in Sy Naam, d.w.s. waar die persoon uit die genade van God weer gebore, of te wel - tot geloof gebring is.

    John12:36 "So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg."

    Wie is die lig van wie Jesus in die vers hier bo praat? Dit is van Homself. Geloof in Hom (Christus), maak ons kinders van Hom.

    Gal 3:26 "Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;"

    Duideliker as dit kan die Woord dit nie stel nie. Geen verbondsdoop kan jou 'n kind van Jesus maak nie. Geen verbond kan jou 'n kind van Jesus maak nie. Slegs geloof. Die Bybel stel slegs een vereiste om 'n kind van God te word, slegs een sleutel gee ons deel aan God en dit is geloof.

    Terloops, wat is dan die bedoeling van die verbond wat God met Abraham gesluit het? Vir wie is die verbond belowe? Wie is deel van daardie verbond?

    Gal 3:6-9 "Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham."

    Sien jy nou hoe die goue draad van die verbond van Abraham al die pad deurloop, sonder onderbreking, tot in die Nuwe Testament. Steeds is dit slegs geloof wat red.

    Waar kom die reddende geloof vandaan? Hoe kry ons die geloof wat ons redding gee?

    Ef 2:8 "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie."

    Ons kan nie anders as om hierdie hele teks te onderstreep nie! Dit is die sentrale punt van ons geloof. Slegs deur geloof, deur God se genade aan ons geskenk, kan ons gered word. Slegs in geloof kan ons deel van Sy kinders genoem word. Geen werke, geen teken, geen doop, geen tradisie kan enige iemand red nie.

    T.o.v. punt (c) is die DF nie skriftuurlik nie.

    (Oorspronklik gepubliseer op 21/12/2010 en hersien op 07/06/2018)

    Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt B

    Ons gaan voort in die reeks t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF). In hierdie boodskap kyk ons na die volgende stelling in die DF: "Die verbondsdoop maak ons lidmate van Sy gemeente"

    Die DF spesifiseer dat deur die verbondsdoop ons, d.w.s. kindertjies en grootmense wat reeds die verbondsdoop ontvang het, lidmate van Christus se gemeente word. Om beter te verstaan wat die stelling beteken is dit eers nodig om 'n paar verwante vrae te beantwoord: Wat is Christus se gemeente? Wie behoort aan hierdie gemeente? En wie is hoof van die gemeente?

    Ons moet onthou dat die moderne gebruik van die woord gemeente nie dieselfde is as die wyse waarop die woord gebruik is in die Bybel nie. Ons sal b.v. praat van "na watter gemeente gaan jy", of "by watter gemeente gaan jy kerk", of "aan watter gemeente behoort jy". Ons gebruik van die woord gemeente is tipies beperk tot die konteks van 'n gebou met 'n adres, of 'n naam van die groep gelowiges wie daar aanbid.

    Die Bybel gebruik ook die woord gemeente om na 'n groep gelowiges te verwys in 'n spesifieke plek, b.v. gemeente in Jerusalem Hand. 11:22. Maar die Bybelse gebruik van die woord gemeente strek ook baie wyer as dit. Die Bybel gebruik die woord gemeente (Grieks ekklēsia ook vertaal as "kerk") om meer te wys na die universele groep gelowiges, sien Matt. 16:18, Ef. 1:22.

    Die manier waarop die DF dus die woord gemeente gebruik is belangrik. Wat is die konteks van die woord in die DF. Toon dit op die plaaslike gemeente of op die universele liggaam van gelowiges?

    Ef 1:22-23 "En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul."

    Ef 5:23 "Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam."

    Kol 1:18 "En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; ..."

    Die Bybel verwys na gemeente en liggaam as een en dieselfde in 'n geestelike konteks. Wanneer ons dan verder in hierdie boodskap na of liggaam of gemeente van Christus verwys moet u dit asb. so ook in gedagte hou. Die Woord gebruik ook die woord liggaam om te verwys na ons vervalle, fisiese liggame. Maar, wanneer dit praat van Hom as Hoof van die gemeente, praat dit ook van Hom as hoof en verlosser van die liggaam in geestelike terme.

    Omdat die DF leer dat die doop ons lidmate maak van "Sy" gemeente, verwys dit na die liggaam van Christus op aarde van wie Hy die Hoof is en nie na 'n kerk met 'n adres nie.

    Nou dat ons verstaan wat die gemeente is waarvan die DF praat, moet ons vra hoe iemand lidmaat daarvan word? Hoe word iemand deel van die gemeente van wie Christus die Hoof is?

    Hand 2:46-47 "En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is."

    Hand 5:14 "En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,"

    Ef 2:12-22 "dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees."

    Hierdie teks verwysings sluit mooi aan by die verduideliking reeds gegee in Punt (a) – dat slegs deur geloof in Christus enige iemand aan God kan behoort. Net so wys die bg. teks dat geloof ook die sleutel is tot lidmaatskap aan die liggaam van Christus van wie Hy Hoof is. Dit maak nie saak of jy uit die ou verbond of besnydenis kom, Jood of Griek is nie. Dit wat almal met die liggaam van Christus met God versoen is die geloof.

    Dit is eenvoudig nie gesonde eksegese om te leer dat die doop iemand deel maak van die gemeente van wie Jesus die Hoof is nie. Die Woord is duidelik dat geloof hierdie funksie verrig.

    Die verbondsdoop kan nie 'n persoon deel gee aan die liggaam van Christus of die gemeente van Christus nie. Die eenvoudige rede is dat die verbondsdoop nie gepaard gaan met geloof in die individu nie. Waar geloof ontbreek kan daar nie versoening met die liggaam van Christus wees nie. Die verbondsdoop kan nie red nie en is net 'n lee teken wat op kindertjies bedien word maar geen vermoeë het om hulle te red nie.

    T.o.v. punt (b) meet die DF nie as Skrif getrou nie. Die DF is dus in dwaal op hierdie punt. Dit is jammer dat so baie doopouers juis hierdie leun glo. Dit maak mens ook wonder hoeveel ongelowige mense ons in ons kerke het juis omdat mense nie geëvangeliseer word nie, omdat hulle verkeerd geleer word wat nodig is om gered te word.

    (Oorspronklik gepubliseer op 21/12/2010 en hersien op 07/06/2018)

    Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Punt A

    In die Inleiding van hierdie artikel reeks het ek tien punte t.o.v. die NG Kerk Doopformulier (DF) gekies waarna ek in meer diepte wil kyk, en graag teen die Woord van God wil meet. In hierdie boodskap kyk ons na die volgende stelling in die DF: "Ten spyte van ons kinders se sondige natuur behoort hulle in Christus aan God"

    Hierdie stelling van die DF impliseer dat kinders deur die verbondsdoop deur Christus aan God behoort. Maar is dit moontlik om slegs op grond van 'n verbondsdoop aan God te behoort?

    Rom 8:5-9 "Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie."

    In hierdie teks is die Woord selektief. Dit spesifiseer dat mense wat in die vlees wandel (ongelowige mense), nie aan Christus behoort nie. Slegs mense wat in die Gees wandel, behoort aan Hom. Nie net behoort mense in die Gees aan Christus, maar so ook deur Christus aan God.

    1 Kor 3:16-23 "Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? ... Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge — alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God."

    Hierdie teks verwysing bevestig die vorige een. Rom 8:5-9 sê duidelik dat mense wat in die vlees wandel en nie in die Gees nie, vleeslik is. Mense wat in die vlees wandel is ongelowige en sondige mense (Rom 7:5), en hulle kan nie aan Christus behoort nie, en so ook nie aan God nie. Die onderskeid is dat slegs mense met die Gees in hulle aan God behoort.

    In terme van die verbondsdoop is die vraag dus: Het ons die Gees van geboorte af of kry ons die Gees slegs op 'n sekere punt?

    Joh 7:37-39 "En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie."

    Slegs die mense wat in Hom glo sal die Gees ontvang. Let op die volgorde, eers geloof en dan word die Heilige Gees aan die gelowige gegee. Die belofte dat die Heilige Gees uitgestort gaan word aan mense, om in mense te woon, is deur Jesus gemaak voor die Gees vir die eerste keer uitgestort is.

    Joh 14:12-26 "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. ... En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. ... maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het."

    En reeds voor Jesus gekom het is daar al in die Ou Testament dieselfde belofte aan ons gemaak, sien gerus Jes 44:3, Eseg 11:19, Joël 2:28-32. Hierdie belofte is dat die Heilige Gees in gelowiges sal woon. Gelowiges sal Gees vervuld wees, sien Ef 5:18 en 1 Joh 2:20,27. Dit beteken dat ongelowiges nie die Gees in hulle het nie.

    Daarom moet die vraag gevra word: Is die stelling van die DF en ook die HK, dat die verbondsdoop kinders deel maak van God deur Christus korrek?

    In die lig van bogenoemde verwysings, klop die DF en HK siening nie met die Woord nie. Volgens die Woord behoort slegs mense wat die Gees in hulle het aan God deur Christus. En die Gees word slegs uitgestort wanneer die persoon tot geloof kom. Iemand wie nie in Jesus Christus glo nie is nie gered nie en die bewys is omdat daardie persoon nie die Gees het nie.

    Gee die verbondsdoop geloof aan die kindjie? Voorsien die verbondsdoop die kindjie van die inwerking van die Gees? Nee, dit kan en doen ook nie en daar is geen voorbeeld in die Woord van mense wie aan Christus behoort as hulle nie eers persoonlik tot geloof gekom het nie.

    In terme van Punt (a) klop die DF nie met die Woord nie. Die DF leer "Ten spyte van ons kinders se sondige natuur behoort hulle in Christus aan God". Hoe? Hoe behoort hulle aan Christus? Die enigste manier is deur geloof en 'n jong kindjie kan nog nie geloof hê nie. Let asb. op dat ek nie impliseer dat so 'n kindjie nie "hemel" toe gaan as hulle sterf nie. Hulle is gered totdat hulle op die ouderdom kom waar hulle self kan kies om in Jesus te glo. In Engels staan die lering as "the age of accountability" bekend. Ek hoop om later meer hieroor te skryf.

    In opsomming, geloof is nodig om aan Jesus te behoort. Die verbondsdoop wat aan klein kinders bedien word en aan hulle belowe dat so 'n kindjie aan Jesus behoort en dus gered is, is vals en gee die kindjie en ouers valse hoop. Dit is eerder Bybels om die ouers die vertroue te gee dat hul kindjies reeds sonder die doop veilig in Jesus se hande is omdat hulle verstandelik nog nie vir of teen Hom kan besluit nie. Soos enige ander persoon het elke persoon geloof nodig om wanneer hulle ouer is gered te word. Dan eers word hulle deel van die Liggaam van Christus en word deel van Sy kudde. Mense wie kies om Hom te verwerp is vyande van God al het so 'n persoon die verbondsdoop gehad, sien Rom. 8:5-8.

    Ek ken nogal baie mense wie in die kerk grootgeword het en as kinders gedoop is. Die tragiese ding is dat sommige van hulle die kerk opgegee het en ek kan maar net wonder hoekom en of hulle ooit werklik in Jesus as hul Verlosser geglo het.

    (Oorspronklik gepubliseer op 21/12/2010 en hersien op 30/04/2018)

    Skriftuurlike Akkuraatheid van die Verbondsdoop - Inleiding

    Ek skryf hierdie artikel reeks vir bepeinsing t.o.v. die skriftuurlike geldigheid van die verbondsdoop of te wel die kleindoop of kinderdoop soos dit ook bekend staan. Dit word gerig as 'n ope brief aan gelowiges in enige van die Gereformeerde kerke waar die verbondsdoop reeds vir jare in tradisie gebruik word. A.g.v. die verwarring t.o.v. die doop, is hierdie reeks gefokus daarop om die saak van die doop met betrekking tot 'n paar sleutel punte, te verduidelik met die Woord as sentrale uitgangspunt. Hierdie reeks is glad nie 'n volledige ondersoek van die verbondsdoop nie, maar dit hoop, deur 'n paar sleutel verbondsdoop punte teen die Woord te vergelyk, die leser te lei tot verdere in diepte ondersoek. Jy word aangemoedig om steeds met die Bybel in die hand deur die reeks te werk en vir jou self te ontdek wat die Woord leer oor die doop.

    Die bespreking in hierdie reeks is gebaseer op die NG Kerk Doopformulier (DF) soos in die algemeen in gebruik geneem deur baie Suid Afrikaanse kerke uit die Reformasie. 'n Kopie van die NG Kerk Doopformulier kan verkry word by:

    http://kerkargief.co.za/doks/bely/F_Doop.pdf

    Die DF vorm die basis vir die doop van klein kinders en die sleutel punte van hierdie DF word ook geleer in die Heidelbergse Kategismus (HK), en daarom sal deur die DF teen die Woord te vergelyk ter selfde tyd tekortkominge in die HK uitwys word.

    Die DF bevat drie beloftes wat die ouers met die doop van hul kind voor die gemeente bevestig:

    “Ten eerste: Bely u dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?

    Ten tweede: Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament wat ook in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

    Ten derde: Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder (of voog) is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?"

    Met die eerste gelofte punt in die DF bely die ouer(s)/voog dat hul kind, ten spyte daarvan dat hulle as sondaars in die wêreld gekom het, steeds:

    (a) in Christus aan God behoort en

    (b) daarom as lidmaat van Sy gemeente gedoop moet word.

    Die DF bevat ook sewe punte om te beskryf wat die doop is:

    Die doop in die Naam van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, beteken en verkondig:

    - dat ons en ons kinders, wat as sondaars in die wêreld gekom het, slegs in die koninkryk van God kan kom as ons opnuut gebore word;

    - dat die Here daardeur bevestig dat Hy ons in sy verbond insluit, ons tot sy kinders aanneem en ons deel laat hê aan al die voorregte van die verbond;

    - dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het;

    - dat ons ou, sondige lewe saam met Hom aan die kruis gesterf het en saam met Hom begrawe is, maar dat ons ook weer deur sy opstanding lewend gemaak word sodat "ons vir die sonde dood is en vir God lewe" (Rom 6:11);

    - dat die doop 'n seël is van die inlywing in die kerk van Jesus Christus en ons verplig om as lewende lidmate te leef;

    - dat ons as gedooptes die Here uit dankbaarheid met ons hele wese moet liefhê, vertrou en dien, en

    - dat die Here ons deur hierdie sakrament verséker dat Hy deur sy Gees in ons wil woon en ons lewens daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.“

    Aangesien die doop volgens die DF 'n teken en seel vir die betrokke kind en ouers is - van die verbond van genade wat God met hulle sluit - is die beskrywing van die verbondsdoop volgens die DF dat:

    (c) die Here met die doop ons kinders as Sy kinders aanneem,

    (d) die doop ons kinders verbind aan Christus wat ons sondes met Sy bloed af gewas het,

    (e) ons kinders se ou sondige lewe saam met Hom aan die kruis gesterf het,

    (f) ons kinders ook deur Sy opstanding lewend gemaak word sodat hulle dan vir hul sonde dood is,

    (g) die doop ons kinders inlyf as lidmate in die kerk van Jesus Christus,

    (h) ons kinders as lewende lidmate moet lewe,

    (i) as gedooptes ons kinders uit dankbaarheid die Here moet liefhê, en moet vertrou en dien,

    (j) in die doop die Here deur Sy Gees in ons kinders wil woon en hul lewens daagliks wil regeer.

    Dit is belangrik om te merk dat bogenoemde punte uit die DF dan volgens die DF vir beide grootmense en kinders wie die verbondsdoop deurgaan geld.

    Nou dat jy verstaan wat die standpunt van die DF is, kan ons die punte a tot j (volg die skakels hier bo) wat uit die DF geneem is, een vir een teen die Woord meet.

    (Oorspronklik gepubliseer op 21/12/2010 en hersien op 30/04/2018)

    Sleutel Boodskappe

    Copyright © 2 Tim 3:16 - Wat glo jy? | Powered by Blogger

    Design by Anders Noren | Blogger Theme by NewBloggerThemes.com